Selja Klooster – die gewyde eiland aan die weskus van Noorweë

Artikel

Wanda Marcussen
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 05 August 2020
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels

Selja Klooster word al vir langer as ’n 1 000 jaar as een van die gewydste liggings in Noorweë beskou. Die klooster word gekoppel aan die legende van St. Sunniva (10de eeu HJ), die enigste Noorweegse sint, en was vir ’n lang tyd ’n belangrike pelgrimsbestemming in die land, met slegs die Nidaros Katedraal in Trondheim wat gewilder was. Die geskiedkundige konteks sowel as die wilde en bekoorlike omgewing lok steeds baie besoekers na die eiland en die klooster daarop. Dit laat ’n blywende indruk op diegene wat die reis daarheen onderneem.

Selja Monastery
Selja-klooster
Wanda Marcussen (CC BY-NC-SA)

Die legende van St. Sunniva

Die godsdienstige betekenis van die eiland Selja begin met die legende van St. Sunniva en die Seljamen waarvan die oorsprong blykbaar in die 10de eeu HJ gesetel is. Die legende is in drie verskillende bronne opgeteken: Acta Sanctorum in Selio (1170 HJ), Óláfs saga Tryggvasonar (ca. 1190 HJ deur Oddr Snorrason, Ysland) en Flateyjarbók (14de eeu HJ, Ysland) maar dit is eerste deur Adam van Bremen (1040-1081 HJ) genoem wat die eiland ca. 1070 HJ besoek het. Adam van Bremen se besoek het 70-80 jaar plaasgevind nadat Olav Tryggvason, die eerste Christenkoning van Noorweë (r. 995-1000 HJ) glo die oorskot van St. Sunniva in die grot waar sy in 996 HJ begrawe is, gevind het.

Verwyder Advertensies
Advertisement
TOT VANDAG TOE WORD ST. SUNNIVA, HAAR BROER EN HULLE GESELSKAP OP 8 JULIE, ’N DAG WAT AS SELJUMANNAMESSE BEKEND STAAN, HERDENK.

Volgens die legende was St. Sunniva ’n Ierse Christenprinses wat van haar huis af moes vlug. ’n Heidense en gewelddadige koning – moontlik ’n Viking-opperhoof – wou beheer van haar grond verkry en haar dwing om met hom te trou. Die Ierse prinses, sowel as ’n paar van haar mense en haar broer Alban het per boot ontsnap. Alban is later verkeerdelik geassosieer met die Engelse St. Alban (3de of 4de eeu HJ) aan wie die klooster later opgedra is. Onstuimige weer het die boot oorweldig en St. Sunniva en haar metgeselle het aan die kus van Noorweë beland. Gestrand op Selja Eiland, het hulle skuiling in ’n grot gevind en hulle op die voorheen onbewoonde eiland gevestig.

Destyds het Jarl (die titel van ’n Noorse hoofman) Håkon Sigurðarson (r. ca. 975-995 HJ) oor Noorweë geheers. Hy was ’n heidenkoning wat sterk teen die verchristeliking van Noorweë gekant was. Die mense wat op die vasteland gewoon het – nie ver van Selja af nie – was skepties oor die nuwe Christennedersetters en het tyding aan Jarl Håkon gestuur en hulle nuwe bure van skaapdiefstal beskuldig. Jarl Håkon is met ’n afdeling gewapende mans na die eiland met die bedoeling om die Ierse prinses en die nuwe inwoners dood te maak. St. Sunniva en haar geselskap het in die grot weggekruip en tot God gebid vir ’n wonderwerk om hulle teen die toorn van die heidene te beskerm. Hulle gebede is verhoor. Klippe het van die berg bo die grot af geval en die ingang na die grot geblokkeer, en sodoende is Jarl Håkon se aanval gestuit. Ongelukkig was St. Sunniva en haar volgelinge binne die grot vasgekeer en almal het gesterf. Olav Tryggvason het die grot later besoek en het Sunniva se liggaam behoue gevind; dit het gelyk of sy maar net geslaap het. Dit is as teken van haar heiligheid aanvaar, en die eiland is kort daarna as belangrike pelgrimsligging gevestig.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Saint Sunniva Statue
Saint Sunniva-standbeeld
Wanda Marcussen (CC BY-NC-SA)
St. Sunniva het die beskermsint van Bergen en die weskus van Noorweë geword. Sy word soms langs St. Olav (r. 1015-1028 HJ) uitgebeeld, wat daarop sinspeel dat sy met tye sáám met St. Olav ook as die beskermsint van die hele Noorweë beskou is. In die meeste uitbeeldings hou St. Sunniva ’n klip vas wat die klippe simboliseer wat die grot geblokkeer het. Hierdie klippe het haar en haar mense beskerm teen gevangeneming deur die Nore wat die instel van die nuwe Christengeloof teengestaan het. Die kultus wat St. Sunniva herdenk het, was in die grotte op die eiland teenwoordig voordat ’n klipkerk en ’n Benediktynse klooster in 1100 HJ gebou en aan St. Alban opgedra is. Selja het die eerste bisdom geraak wat op die weskus van Noorweë gevestig is maar dit is in 1170 HJ na Bjørgvin (nou Bergen) verskuif. St. Sunniva, haar broer en hulle geselskap word tot vandag toe op 8 Julie, ’n dag bekend as Seljumannamesse, herdenk.

Monastery Ruins on Selja Island, Norway
Kloosterruïnes op Selja-eiland, Noorweë
Wanda Marcussen (CC BY-NC-SA)

’n Besoek aan die klooster

Indien jy hierdie betowerende eiland wil besoek, moet jy mooi beplan want jy moet ’n bootvaart vanaf Selje bespreek om daar te kom, en daar is gewoonlik nie baie afvaarte per dag nie. Die bootvaart duur ongeveer 15 minute, en jy sal maklik 2 uur hê om die eiland te verken voordat die boot jou weer optel en terugneem na die vasteland. ’n Gids sal die pad na die kloosterbouval aanwys waar die toring die enigste struktuur is wat nog heeltemal staan. Jy kan die toring binnegaan en die nou trappe klim vir ’n uitstekende uitsig oor die eiland voordat jy deur die ruïne wandel en jou voorstel hoe die kloosterlewe deur die eeue heen op die verweerde eiland moes gewees het. Indien jy gelukkig genoeg is om jou besoek op ’n sonnige somersdag af te lê, sal dit dalk moeilik wees om te verstaan hoe koud en vyandig die omgewing tydens die donker, ysige winters moes gevoel het toe die see en wind vanaf die Noordsee in gedryf het. Die monnike wat gekies het om heeljaar op die eiland te woon, moes werklik toegewyd aan hulle diens en die gewydheid van die eiland en St. Sunniva gewees het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

View of Selja Monastery
Uitsig op Selja-klooster
Wanda Marcussen (CC BY-NC-SA)
Bestee ’n bietjie tyd en stap deur die bouval rond voor jy die steil trappe na die grot en die ruïne van die ou St. Sunniva Kerk bestyg. Die grot was die oorspronklike gewyde ligging op die eiland voordat die klooster gebou is en volgens die legende is dit waarbinne St. Sunniva vasgekeer was. Sommige geleerdes doen ook aan die hand dat die grot in die dae van weleer as ’n gewyde ligging en ’n plek van aanbidding beskou kon gewees het. In die antieke Noorse geloof is skouspelagtige landskappe en grotte, soos wat op Selja aangetref word, dikwels as spesiale plekke beskou waar goddelike geeste of mag aangetref is. Wanneer jy vandag die grot betree, is dit donker en klam soos dit sou gewees het toe St. Sunniva en haar mense baie eeue gelede daar skuilgehou het. Wees dus versigtig en kyk mooi waar jy loop, en reik uit na die unieke atmosfeer wat in hierdie veel eerbiedigde gewyde ligging ervaar kan word.

St. Sunniva Cave, Selja
St Sunniva-grot, Selja
Wanda Marcussen (CC BY-NC-SA)
Ná jou besoek aan die grot kan jy gerus die uitsig oor die kloosterbouval van bo af geniet, en ’n bietjie op die “terras”-konstruksie buite die grot gaan sit. ’n Kerk opgedra aan St. Sunniva het eens hier gestaan, maar die gebruik van die res van die gelykgemaakte konstruksie is onbekend. Tydens die res van jou tyd op die eiland kan jy die pragtige landskap verken waar dit moontlik is om ’n ent teen die berghang of met die kus langs te gaan stap. Moenie vergeet om ’n draai te maak by die gewyde fontein wat ook aan St. Sunniva opgedra is nie; dit is net ’n entjie van die paadjie tussen die klooster en die grot af geleë.

St. Sunniva's Sacred Spring
Sint Sunniva se Heilige Lente
Wanda Marcussen (CC BY-NC-SA)
Verskeie legendes verhaal hoe mense van hul siekte genees is nadat hulle van die water uit die fontein gedrink het. ’n Onlangse storie vertel hoe ’n onvrugbare paartjie blykbaar die ouers van ses kinders geraak het nadat hulle van die water gedrink het. Hulle woon nou aan die ander kant van die eiland om naby te wees aan die gewyde plek wat hulle lewe verander het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Verwyder Advertensies
Advertensie

Bibliografie

  • Steinsland, Gro. Norrøn religion: Myter, riter, samfunn. Pax:Oslo, 2005

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Wanda Marcussen
Wanda has studied International Relations with specialization in History at The University of Oslo, and is currently studying for her Master's degree in Environmental History at Trinity College Dublin.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Marcussen, W. (2020, August 05). Selja Klooster – die gewyde eiland aan die weskus van Noorweë [Selja Monastery - The Sacred Island off the West Coast of Norway]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1585/selja-klooster---die-gewyde-eiland-aan-die-weskus/

Chicago-styl

Marcussen, Wanda. "Selja Klooster – die gewyde eiland aan die weskus van Noorweë." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig August 05, 2020. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1585/selja-klooster---die-gewyde-eiland-aan-die-weskus/.

MLA-styl

Marcussen, Wanda. "Selja Klooster – die gewyde eiland aan die weskus van Noorweë." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 05 Aug 2020. Web. 23 Apr 2024.